Hailey Clark stel nuwe album bekend! – Musical Venture Radio

Hailey Clark stel nuwe album bekend!

Hailey Clark se gunstelingaanhaling oor musiek is: “Musiek is nie wat ek doen nie, dis wie ek is”, en dit is beslis ’n raak beskrywing van hierdie vriendelike blondekop popsanger wat onlangs haar eerste amptelike album, Hailey Clark – Deurmekaar (in samewerking met Son Records), vrygestel het. Die eerste Engelse enkelsnit, I Should’ve Followed You – ’n duet met Lee Scott – is baie goed deur radiostasies ontvang en sy het ook reeds ’n draai gaan maak op van kykNET se gewilde musiekprogramme, JAM, JUKEBOX, kykNET TOP20 en SABC Morning Live. Haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Deurmekaar, speel ook reeds geruime tyd op talle radiostasies landwyd.

Sonet Angelique du Plessis, beter bekend as Hailey Clark, se musiekavontuur het begin toe sy maar vyf jaar oud was. ’n Musiekskool is in haar tuisdorp (Christiana) geopen en sy en haar sussie was dadelik vuur en vlam om musiekles te neem. Híér het haar passie vir musiek ontstaan en kort daarna het sy begin deelneem aan kompetisies (waaronder Supersterre, Solis vir Christus, Spontaan en die Afri-Visie Liedjieskryfkompetisie), kerkoptredes, funksies en feeste (KKNK). Sy het ook dans- en kitaarlesse geneem en haarself verder in musiek bekwaam deur haar Graad 5-klaviermusiekeksamen in Musiekteorie en –prakties deur Unisa te voltooi. Sonder dat jy weet, Net ek en jy en Ek soek jou my baby, snitte wat sy in haar privaathoedanigheid opgeneem het, het baie goeie terugvoer gekry op die internet en is ook al oor die radio gehoor.

Haar debuutalbum kan hoofsaaklik beskryf word as Afrikaanse pop, met ’n elektroniese aanslag en verskil nogal baie van die rustige musiek wat sy in die verlede gesing het. “Die hoofdoel van die album is dat luisteraars moet pret hê wanneer hulle daarna luister. Daar is wel ’n paar dieper liedjies, maar niks te ernstig nie,” verklap Hailey entoesiasties. “Al die liedjies is nuut, vars en op internasionale standaard en was ’n spanpoging tussen my, Douw Steyn, Herman Steyn en William de Bruin van Son Records. Daar is ook twee Engelse duette, met ’n akoestiese rock-aanslag, saam met Dehan von Solms en Lee Scott.” Die CD bestaan uit twaalf snitte, wat spesiaal omskep is om haar strelende stem, op sy beste te laat vertoon. Die produksiespan wou graag musiek kies waarmee aanhangers kon identifiseer en Hailey glo dat Deurmekaar, Stop die Tyd, Myne Maar Hy’s Mal, As die Merkies Blou Gaan, Stay en Tien uit Tien baie gewild gaan wees.

Buiten vir die ongelooflike skrywers en kunstenaars saam met wie sy aan haar album gewerk het, het Hailey ook die afgelope twee jaar heelwat voorvertonings gedoen vir van die grootste kunstenaar in die land, waaronder Steve Hofmeyr, Adam, Joe Foster, Jan Rhaap, Anton Botha en vele meer, asook Suid-Afrika plat gereis en baie mense ontmoet. As jy haar vra wie in die bedryf haar inspireer, sê sy: “Ek hou van enige tipe musiek, van country, gospel en blues, tot pop, rock, klassieke musiek en ’n groot verskeidenheid Afrikaanse musiek wat Juanita du Plessis, Andriëtte, Anna Davel, Jan Blohm, Spoegwolf, Bouwer Bosch en Elvis Blue insluit.” Sy het ook baie respek vir internasionale musiekvervaardigers soos Max Martin en Zedd, omdat hulle al met van die wêreld se voorste popkunstenaars gewerk het en haar nuwe album juis hiermee identifiseer. Sy sou ook graag ’n liedjies wou opneem saam met Brendan Peyper, saam met wie sy opgetree het toe hulle nog op skool was.

Wanneer sy nie besig is om harte te verower op die verhoog nie, studeer sy drama op Kovsies in Bloemfontein en sy erken dat, as sy nie ’n sanger was nie, sy steeds op ’n manier in die vermaaklikheidsbedryf sou wou werk – hetsy as akteur of grimeerkunstenaar. “My droom is om aan te hou doen waarvoor ek lief is en te groei in my loopbaan en ook om my debuut op die grootskerm te maak in ’n Afrikaanse fliek. Ek sou ook regtig nog ’n instrument wou bemeester en wil aanhou om liedjies te skryf. Die mooi en die seer van liefde inspireer my. Om te skryf is ’n manier om my gevoelens en ondervindings te deel. As ek daarmee iemand anders kan help of inspireer, maak dit alles die moeite werd”, sê sy.

Hailey Clark se nuwe CD is ’n versameling van ritmiese genietmusiek, wat sag is op die oor, en jou laat uitsien na ’n lekker kuier of danspartytjie saam met vriende. Haar unieke aanslag en stroopsoet stem is soos ’n vars briesie in ’n genre wat maklik gewoon kan wees. Daar wag voorwaar ’n blink toekoms op hierdie doelgerigte kunstenaar… op die verhoog en miskien ook nog op die silwerdoek.

Die album:

  1. Deurmekaar (Douw Steyn / William de Bruin)
  2. As die merkies bou gaan (Douw Steyn / William de Bruin)
  3. Myne maar hy’s mal (Alex Sparrow / Vertaling – William de Bruin)
  4. Stay – met Dehan van Solms (Douw Steyn / William de Bruin / Hailey Clark / Herman Steyn)
  5. Stop die tyd (Douw Steyn / William de Bruin)
  6. Verdien jou meer (Herman Steyn / Hailey Clark)
  7. Jy werk weer laat (Douw Steyn / William de Bruin)
  8. Jy laat my hart weer klop (Herman Steyn / Hailey Clark)
  9. Vier seisoene kind (Gian Groen)
  10. Daardie een is jy (Barnardo Bleom / Craig Sidler)
  11. I should’ve followed you home – met Lee Scott (Gary Barlow / Jörgen Elofsson)

 

Volg Hailey Clark op:

Facebook: https://www.facebook.com/haileyclarkHC

Twitter: @HaileyClarkHC

Instagram: @haileyclarkhc

MUSIEKVIDEO –  DEURMEKAAR:        

Leave a Reply

%d bloggers like this: