Onder die Kersboom met Gerhard Steyn.

Vier kersdag saam met Gerhard Steyn en agt spesiale gaste onder die kersboom. Kort op die hake van sy nuwe album “Hartvanger”, verras Gerhard Steyn ons met ‘n TV gesins program op Kersdag. Gerhard Steyn kuier saam met agt van Suid Afrika se bekendste kunstenaars onder die kersboom.

In ‘n eksklusiewe 72 minute Kersprogram kuier Gerhard Steyn met Juan Boucher, Die Campbells, Nádine, Richard van der Westhuizen, HemelBesem, Sorina “Flooze” Erasmus, Jakkie Louw en Nicholis Louw, elk onder sy of haar kersboom. In die program vertel elk van hulle oor wat hulle idee is van Kersfees, hoe hulle dit ervaar het in hulle kinderjare, en hoe daardie ervarings hulle Kersdae as volwassenes beínvloed het. Van die gaste het reeds kinders van hul eie, en brei hulle meer uit oor hoe die jonger geslag Kersdag beleef. Gerhard Steyn verduidelik “In my tydjie saam met elk van my gaste het ons bietjie gedelf om meer van hulle menswees uit te vind, spesifiek ten opsigte van Kerstyd. Hierdie was vir my ‘n verrykende ervaring en het mens te make gekry met hulle binnemens, iets wat baie selde gebeur selfs vir my wat in die bedryf doenig is. Van die punte wat ons aanraak is of Kersdag nog belangrik is, en indien wel, watse waarde dit vir ons almal bied. Kyk gerus. Ons lag, ons is stuitig, maar daar is ook ernstige en selfs stil oomblikke. Wonderlik vir my.”

In die program Onder die Kersboom met Gerhard Steyn stel Steyn ook aan elk van sy gaste ‘n uitdaging.”Hulle moet sonder voorbereiding en meestal met baie min tyd, iets unieks doen, ‘n aktiwiteit wat oor Kersdag gaan. Ons het hope pret met díe aspek van die aanbieding gehad. Die kykers gaan lag…en dalk hier en daar ‘n traan wegvee.” Kyk gerus hoe Gerhard Steyn se gaste sy of haar “situasie” hanteer. Familie Kers-pret op sy beste op díe spesiale dag waar een en elk van die familie saam kan sit en geniet.

Vir Gerhard Steyn self was Kersdag nog altyd bitter belangrik. Hy verduidelik: “Die een aspek wat van kleins af vir my van uiterste belang was, was die familie saamwees, en daai boom vol liggies! Ek onthou nog ons kleinerige kersboompie – dis maar wat ons kon bekostig – was ‘n anker waarom ons lewens gedraai het in die week of twee voor Kersdag. My ma-hulle het dit elke jaar ‘n ongelooflike ervaring vir ons gesin gemaak, met Kersvader “en all”. Dinge het verander met die musieklewe en so aan, en mens moes maar optredes aangryp soos dit gekom het – met heelwat familie Kersdae wat so in die slag gebly het. Veral toe ek nog enkellopend was en baie getoer het oor Desember vakansie periodes kon ek dikwels nie tuis wees op Kersdag nie. Ek het die saamwees onsettend gemis. Soos my loopbaan gevorder het het ek dit ten doel gehad om myself mettertyd terug by die kersboom te kry, die familie kersboom.”

Deesdae maak hy ‘n daarvan punt om amper ten alle koste op Kersdag tuis te wees. Met ‘n profesionele bestuurspan wat sy skedule hanteer is dit ‘n staande reëling dat hy op Kersdag by sy gesin sal wees, en deesdae met nog meer rede. “Hierdie is my en my vrou Zelri se eerste Kersfees saam met Zardi, ons eersteling. Ek kan nie beskryf watse ongelooflike emosionele opwinding ons beleef nie, dis fantasties.” Op die vraag of daar ‘n boom in die sitkamer staan antwoord Gerhard Steyn “Ja verseker, ons het ‘n boom, ‘n grote, dit pas presies in ‘n hoê hoek in ons huis. As verloofdes het ek en Zelri een jaar op ‘n kersboom “jagtog” gegaan, en díe meneer het daar gestaan met ons naam op.” Die Steyn familie se keurig versierde kersboom is deels te sien in die program.

Gerhard Steyn is baie spesifiek waneer hy oor die waarde van Kersfees praat, en geskenke uitruil. “Ons kan nie vir God ‘n geskenk gee nie, Hy gee alles vir ons. Waneer ons geskenke onder mekaar uitruil, is dit om daardie liefde wat God oor ons uitstort simbolies met mekaar te deel, en natuurlik God se grootste geskenk aan ons ooit, sy Seun ons Heiland Jesus Christus.”

Gerhard Steyn se gaste is Juan Boucher, Die Campbells, Nádine, Richard van der Westhuizen, HemelBesem, Sorina “Flooze” Erasmus, Jakkie Louw en Nicholis Louw. Onder die Kersboom met Gerhard Steyn, ‘n eksklusiewe 72-minuut Kers-aanbieding, word uitgesaai tussen

10h30-12h00 op SABC2, 25 Desember 2016.

Leave a Reply

%d bloggers like this: