WOLWE-DANS se debuutalbum: ‘Groete van my’ – Musical Venture Radio

WOLWE-DANS se debuutalbum: ‘Groete van my’

wolwedans

Uiters talentvol. Mooi stemme. Onthoumusiek. Bybly-lirieke.

Dit is die eienskappe van die splinternuwe duo WOLWE-DANS!

Landru Ehlers en Danré van der Spuy – oftewel die duo Wolwe-dans – se debuutalbum, Groete van my, tel tussen 2016 se musikale hoogtepunte.  Dit is ‘n luisterryke, opgewekte, jeugdige album in die akoestiese rockgenre; opwindend kitaargedrewe.

Albei dié talentvolle musikante skryf al liedjies van hul vyftiende verjaardag. Die manne het mekaar op die Potchefstroomkampus  van die Noordwes-Universiteit ontmoet, waar hulle van 2012 tot 2014 studeer het. Hulle het in dieselfde koshuis gewoon en het drie jaar lank ser vir die Excelsior-manskoshuis gesing. Hier het hulle, met min instrumente geleer om in a capella-sang stem as instrument te ontgin.

Landru

Landru, wat op skool – Hoër Volkskool, Heidelberg, Gauteng –  ‘n prefek was, in skoolkonserte gespeel het, in atletiek, tennis en rugby uitgeblink én akademiese en sportkleure verwerf het, het B Com Toerismebesuur studeer. Hy het ook eerstejaartennis gespeel en vir sy koshuis op die rugbyveld uitgedraf, die orkes vir  eerstejaarskonsert afgerig en op die joolkomitee gedien. Naas musiek en kuier saam met vriende, tel die buitelewe, hengel, motorfietsry, skyfskiet en gholf tussen sy genietinge.

Danré

Danré was ook ‘n bedrywige leerder. Hy het rugby, krieket (ook kaptein), binnemuurse hokkie en pluimbal vir sy skool – Kuswagskool in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal –  se eerstespanne gespeel. Hy was ‘n lid van die skoolorkes, die skoolkoor en het in verskeie blyspele opgetree en klank en beligting by skoolgeleenthede behartig. En hy het tyd gemaak vir kitaar-, klavier- en sangles. Hy was onderhoofseun, het akademies presteer en is met die Voortrekkertrofee vir sy volgehoue bydrae op kultuurvlak bekroon. Dié veelsydigheid het hom in matriek die trofee vir die veelsydigste seunsleerder besorg. Tydens sy studies in B Com Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur was daar darem ook tyd om vir die koshuis se eerste-rugbyspan te speel en hy het onder meer ook op die kultuurkomitee gedien. Hy slyp sy sang- en akteurstalent by Malie Kelly se sangakademie en by Brumilda van Rensburg se rolprent-akademie.

Die album

Van die eerste snit, Sterrekyk, tot die pragtige akoestiese weergawe van die treffer, Trouliedjie, boei hulle die luisteraar met suiwer frasering en meevoerende harmonieë. Die album is gegeur met die liefde. Verhoudinge weerkaats in die snitte Ek kan jou myne noem, Sonsak, Op wie jy kan vertrou?, Foutloos, Kaap van liefde, Stoor storie, Wonderwerk en Ek het jou lief.

Landru en Danré vertolk spontaan, geesdriftig en gevoelvol. Jy wil onmiddellik weer na hulle luister!

WOLWE-DANS is verfrissend en vars!

Leave a Reply

%d bloggers like this: