Stephan Visagie – Rondloper (Nuutse CD en Biografie)

stephan-visagie_rondloper_ac

Harde werk maak drome waar

 Stephan Visagie se gunstelingaanhaling oor musiek is: “Wanneer jy gelukkig is, geniet jy musiek. Wanneer jy hartseer is, verstaan jy die lirieke,” en sy eie musiek is ’n perfekte opsomming hiervan. Hierdie talentvolle kunstenaar het al verskeie liedjies op sy skrywerskerfstok, wat jou op reis vat deur ritmiese dansmusiek en nostalgiese hartsmusiek, en hy werk hard aan ’n splinternuwe album, wat luisteraars se stoutste verwagtinge gaan oortref.

Dié veertigjarige sanger se debuutalbum, 4Keeps, is in 2013 deur Vonk Musiek vrygestel – net nadat hy ’n plek as Top 10-finalis in die ATKV Liedjieskryfkompetisie behaal het. Dit is vreeslik goed deur die publiek en radiostasies ontvang en is in dieselfde jaar benoem vir twee Bok Radio-toekennings (Liedjie van die Jaar, Nuwe Kunstenaar van die Jaar). In 2014 is hy ook benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Nuweling van die Jaar. Die titelsnit van die album het vir meer as 20 weke op Bok Radio en Overvaal Stereo se treffersparades gekuier en die musiekvideo

4Keeps:

is deur meer as 21 000 mense op YouTube gekyk. Die enkelsnit is ook bekroon met ’n Top 20-toekenning deur VCR 90.6 en kry nog, saam met die tweede enkelsnit – Kronkelpad :

gereeld speeltyd op die radio, televisie en by partytjies. “Alhoewel ek my huis moes verkoop om die opname van my eerste album te finansier, is dit die moeite werd wanneer mense my musiek waardeer en beloon,” sê Stephan.

Sy tweede album, Wie is jy?, het voortgebou op die bestaande sukses en weereens vir ’n Bok Radio-nominasie (Kunstenaar van die Jaar) gesorg in 2015. “Die album bestaan uit dertien liedjies waarvan ek tien self geskryf en toonset het. Dis baie goed ontvang en van die snitte was treffers op verskeie groot radiostasies. Ek dink dis belangrik dat sangers hulle eie liedjies skryf om sodoende oorspronklike materiaal te kan oplewer en ’n persoonlike boodskap te kan oordra. Die album se liedjies is ’n nadenking oor die lewe. Dit handel oor die tyd wat verbygaan. ’n Mens moet elke oomblik aangryp. As jy lief is vir iemand, moet jy dit sê en wys, want daar is aansienlik minder tyd as wat jy dink. Daar is meer ritmiese liedjies op hierdie CD as die vorige een. Dis ’n mengsel van musiek waarop jy kan dans en waarna jy net kan luister,” vertel hy. “Ek het regdeur die album steeds my eie styl behou, wat ook beteken dat daar van regte instrumente gebruik gemaak is. Regte dromme en kitare.” Musikante en stemme wat by die opnames betrokke was, is Tertius Human (vervaardiger en kitare), Bruce Wallace (dromme), Juan ‘Floors’ Oosthuizen (kitare) en Dianne Chapman. Douw Steyn en Josh Oosthuizen het Hoe draai mens die tyd terug? vervaardig.

Beter Helfte:

Bly:

Wie is Jy?, Never Again en veral Waterberg Blou is die grootste treffers op die album en het almal topplekke op treffersparades, regoor die land, geniet. Laasgenoemde is ook bekroon met ’n Top 20-toekenning deur VCR 90.6 en het ’n nommer twee-posisie gehad op Jacaranda FM.

Stephan was intussen al ’n gas op Jukebox en JAM op kykNET, was deel van die #Lekker TV Legendes-program wat deur Barney Simon aangebied is, het gesig gewys in verskeie publikasies soos Vrouekeur en het al by verskeie feeste opgetree en binnekort gaan sy derde album ook op die rak beskikbaar wees. Die beplande liedjies se lirieke gaan, soos altyd, kunstig en eie aan sy styl wees.

“Ek werk al vir so ’n jaar aan die nuwe CD. Daar is iets van alles op die album, iets om op te dans, iets vir die verliefdes en iets vir die mense wat verlang. Vir my moet ’n liedjie se lirieke met my praat. Ek skryf nie hordes liedjies en dan kies ek net ’n paar nie. Ek het ’n paar en skaaf en skuur aan die musiek en lirieke tot ek gelukkig is daarmee. As ek iets hoor waarmee van my liedjieskrywervriende besig is, vra ek hulle net daar en dan of ek die liedjie kan kry. Dis hoekom die liedjies Die Brief (geskryf deur Olga Leonard en getoonset deur Babette Viljoen) en Kaapse Dagboek (geskryf deur Ronelle Holtzhausen en getoonset deur Pauline Matthews) ook op die album verskyn. Buiten vir die leenliedjie, Gypsy Girl van David Scobie, het ek die ander tien self geskryf en getoonset,” verklap die sanger. “Ek wil hê luisteraars moet kan dans en dan later weer luister na my musiek se woorde. Dan moet hulle verlang na dinge en plekke wat hulle nie ken nie. Terwyl ek besig was met die opnames by Ernie Bates se ateljee, het ’n onbekende man gesit en luister terwyl ons Êrens opgeneem het. Hy het ’n traan in sy oog gehad, ek wil daardie tipe emosie wek.”

Die eerste enkelsnit vanaf sy RONDLOPER album, getiteld SLEUTEL VAN MY HART is Stephan se gunsteling. “Soms kom die lirieke, melodie en vervaardiging perfek saam om iets baie mooi te vorm. Ek dink regtig dit het met die liedjie gebeur. Dis ’n liefdes-popballade sonder die woorde bokkie en baby. Die liedjie is ’n opvolg van Beter Helfte wat op die Wie is jy?-album verskyn het. Ek het geglo dis romanties om aan net een persoon die sleutel van jou hart toe te vertrou en hulle met alles wat daarin is op te skeep”. Daar is ook ’n bonussnit op die CD met die naam Dromers. Dit is geskryf vir Ribbons4Roses. “Ek is trots om te sê dat ek omtrent so vier jaar gelede amptelik hulle eerste ambassadeur geword het. Dis ’n klein organisasie wat daarop fokus om plattelandse kinders met kanker en outisme te help,” sê hy.

 

DIE MAN AGTER DIE GESKAAFDE LIRIEKE

 Stephan is in Lichtenburg gebore, maar het baie rondgetrek as gevolg van sy pa se werk en het tussen Oos-Londen, Pietersburg, Bethal en Pretoria groot geword. Vandag noem hy die Kaap sy huis. Nadat hy aan Hoërskool Overkruin gematrikuleer het, wou hy gaan regte studeer het by die Universiteit van Pretoria, maar het na twee jaar besluit dat dit nie vir hom is nie. Hy het begin sing omdat hy iets anders met sy lewe wou doen, wat steeds kreatief was. Daarom het hy besluit om vir sanglesse te gaan by Chris Coetzer van Ons Eie Drie Tenore en só het sy paaie met Christa en Douw Steyn gekruis en hulle het hom gehelp om sy eerste liedjie, Los my Hart, op die radio vry te stel. “Ek het nooit musiek studeer nie en ook nie op skool of in die kerk gesing nie. Nie eers my ouers het geweet ek wil sing nie, dis een van daai drome wat jy vir jouself hou tot jy die dag genoeg moed het om dit te doen. Darem is daar ’n hele klompie musikale familielede en, veral aan my pa se kant, speel die ooms en neefs almal ’n instrument – van banjo en kosertina tot kitaar en trekklavier. Ek is die enigste een wat sing,” deel die donkerkop.

Wanneer jy hom vra wie in die bedryf hom inspireer, twyfel hy nie wanneer hy antwoord nie. “Beslis Steve Hofmeyr. Sy musiek is altyd nuut en vars, daar is iets in die lirieke waarmee ek kan vereenselwig. In ’n bedryf waar baie sangers tou opgooi, het hy my geleer om aan te hou en deur te druk. Om vir meer as 25 jaar op die hoogste sport in die bedryf te bly, is iets waarvoor ek my hoed met graagte afhaal.” Hy wil ook nog graag saam met Andriëtte Norman en Jennifer Zamudio sing en is reeds besig om saam met Jennifer te werk aan ’n toer in die toekoms.

Stephan beskryf homself as ’n introvert, met ’n droë sin vir humor, wat maklik nostalgies raak oor die lewe. “Ek kry ’n knop in die keel as ek dink aan die ou dae. Emosies, goed of sleg, is vir my ’n groot bron van inspirasie wanneer ek skryf, as jy lag, lag ek saam… heel moontlik gaan ek saam huil as jy huil,” verduidelik hy. Alhoewel hy nie daarvan hou om ver vooruit te beplan nie, droom hy tog daarvan om die wêreld plat te toer, nog baie albums op te neem en diep spore te trap in die musiekbedryf. As jy kyk na wat hierdie vasberade kunstenaar al alles oor die jare vermag het, kan jy nie anders as om uit te sien na wat hy nóg gaan bereik nie.

SNITTE OP DIE NUWE RONDLOPER CD:

Al hierdie vrae
As ek kon
Sleutel van my hart
Êrens
Gister se vuur
Ses winters
Rondloper
Dromers
Better than this
No hit wonder
Die Brief
Kaapse Dagboek
Gypsy girl

VINNIGE FEITE
Gunstelingtydverdryf

Om saam met vriende te kuier en te lag

Ander belangstellings

Wild- en natuurfotografie

Gunstelingkos

Steak

Gunstelingsangers

Steve Hofmeyr, Andriëtte Norman, Neil Diamond, Dr Hook en Aerosmith

Gunstelingfliek

The Imitation Game

Gunstelingakteur

James Spader

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: www.facebook.com/stephan4keeps

Twitter: @stephan.visagie

Instagram: stephan4keeps

 

NAVRAE

Besprekings

Sel: 082 822 9205

E-pos: jsvisagie@gmail.com

 

 

Leave a Reply

%d bloggers like this: