Thys die Bosveldklong se nuwe album: ‘Looks is nie alles nie’ – Musical Venture Radio

Thys die Bosveldklong se nuwe album: ‘Looks is nie alles nie’

looks-is-nie-alles-nie_front-coverNá 21 jaar in die musiekbedryf bied die SAMA-, Ghoema- en ATKV-bekroonde sanger en gewilde TV-aanbieder, Thys die Bosveldklong, sy aanhangers nóg ʼn sorgelose album: Looks is nie alles nie.

Matthys Lourens Streicher, oftewel die vermaak-entrepreneur Thys die Bosveldklong, is ‘n veelsydige mens. Hy is al jare ‘n geregistreerde meester-afslaer, ‘n gekwalifiseerde veldgids, ‘n professionele skildery- en portretramer, ‘n  TV-aanbieder en –vervaardiger – en , veral: ʼn lékker mens!

Hy het onlangs sy musikale vaardigheid op die album Op ʼn ernstige noot – ‘n musikaalgepoetste akoestiese luister album – spesiaal vir fynproe luisteraars uitgereik.

Nou vermaak hy weer met sy forté: vrolike humorklanke en komiese lirieke. Thys se liedjies – uit die kwinkslagtige penne van Louw Wessels, Leon Beukes, Rynard Venter, Ben Beukes en Anton Myburgh – is mensgerigte vertellinge, waarin stuitigheid dikwels erns word.

Dié album bevat weer heerlike stories oor blyplekke en onthoumense – soos ʼn Groot groen John Deer, Jannie Bosvark, Gesina, Dikrib Mopanie en Tannie Stienie van Goudini. Daar is heerlike vermaak in die snitte Looks is nie alles nie, Lekker man lekker, Graad in boereraat, Tjirrie Tjie Tjirrie Tjie, Skuif jou lyf en My wêreld is plat. Al dié snitte is littelosmakers en jy gaan behoorlik kuier op maat van, veral,  By die miskoekvuur.

En dan is daar verposing met drie peinsende ballades: goedige gespot op Bobbejaan staan likkewaan, mooi sentiment op Weskus se kind en emosie op  die toonvenstersnit Swakopmund. Spits ook die ore vir iets heeltemal ánders: Kokkelol.

Thys vermaak sy aanhangers weer met ʼn vrolike Fanagalo-keurspel – waarin hy Eden se Superman, Beeskraal se Stukkie van der Merwe en Kurt Darren se Heidi met geesdrif balke toe draf!

Die produksie, deur die Snymanbroers, is stewig, met aangename styl-afwisseling. Daar is ʼn country-soom, middelmoot-stemminge en, natuurlik, heerlike konsertina-, bekfluitjie- en banjo-klanke om behoorlik vas te trap en dan uit te rafel.

Looks is dalk nie álles nie… Maar die ritme is wel: gryp dit!

Kontak Lydia Winchester vir meer inligting by E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Leave a Reply

%d bloggers like this: